Boodskap van Beheerliggaam Voorsitter

BOODSKAP VAN MNR JACO BILLING: BL – VOORSITTER

2019 – Welkom in Vissieland! Welkom by die Vissiefamilie!

Wat ‘n voorreg is dit nie vir my om deel te wees van die formidabele span nie! Om die tasbare veranderinge te voel, hoe die skool van krag tot krag gaan!

‘n Uitstaande aspek van Laerskool AG Visser is die hoeveelheid geleenthede wat hier is: Akademie, Sport, Kultuur en Diens. In Afrikaans en op ‘n Christelike grondslag. ‘n Geleentheid geskep vir elke leerder om betrokke te kan raak by dié spogskool van ons! Hierdie geleenthede word alles moontlik gemaak deur ons bestuurspan en onderwysers, die polsslag van ons skool! Die hoë mikpunte wat hulle stel om te verseker dat ons kinders die beste opvoeding, afrigting, sorg, liefde en respek ontvang is noemenswaardig! Leerders word aangemoedig om die geleenthede aan te gryp en hulle lewensritme te bepaal!

Ek weet ons skool is ook geseën met soveel passievolle ouers wat ons ondersteun en toegewyd is teenoor die skool. Elke ouer se dagtaak om hulle kinders te ondersteun en aan te moedig om hulle beste te gee, verleen hulp aan die lewensritmes waarop u kind kan voortbou. Dis immers ons voorreg om hulle ouers te kan wees! En daarvoor seën ek u!

Met al die die veranderende tye moet ons ook nie fokus verloor op dit wat werklik die behoud van ons skool is nie. En sal ons van tyd tot tyd besluite moet neem om die leerders, ouers en onderwyserers toe te rus met ‘n wapenuitrusting van waarheid, geloof, geregtigheid, gees en vrede, soos Paulus in Efesiërs geskryf het. Sonder ons geloof en liefde is ons niks!

Aan die einde van die dag moet ons almal begunstigdes wees van die keuses, besluite en aksies wat gemaak is of word en om ons skool wat met liefde sy volk dien en liefdediens as taak hier sien, na nuwe hoogtes te neem.

Ek en die huidige beheerliggaam sien dit as ‘n voorreg om hierdie omgewing te skep, uit te bou en saam met julle te koester!

Gun my dan ook net die geleentheid om ons leerders, ouers, bestuurspan, onderwysers en mede BL lede te seën met vreugde, vrede, liefde en guns vir die jaar wat voor ons lê en weet God is ons Leidsman en ons hoef niks te vrees nie!

Blaas hoog die Vissie-vlam!

Vissiegroete,

Jaco Billing

BL Voorsitter