|
|
VISIE
- Die skool wat 'n verskil maak in jou kind se lewe.
- Die skool waar elke leerder iemand is.
- Die skool vir die kind, nie die kind vir die skool nie
MISSIE
Ons strewe na 'n Vissie wat:
- Die Hemelse Vader bo alles eer
- trots is op sy/haar skool met al sy tradisies en gebruike
- gebalanseerd, betrokke is en so goed as moontlik presteer
- 'n netjiese, gedissiplineerde, gemotiveerde, hoflike en verantwoordelike leerder is
- gesag aanvaar en ons skoolreëls in alle opsigte eerbiedig
- Hoë Christelike-Nasionale waardes handhaaf
- ten einde van sy/haar skoolloopbaan by ons, ten volle toegerus sal wees vir die lewe daar buite en die geweldige eise van die toekoms.
Ons strewe na 'n Personeellid wat:
- gereeld die knie buig voor sy/haar Verlosser
- sy/haar Godgegewe talente en gawes aanwend in die beplanning en verwesenliking van ons doelwitte
- bereid is om die belange van die leerders voor eie belang te stel en bereid is om kollegiale lojaliteit te betoon
- tuis sal voel in ons span
Ons strewe na 'n Ouer wat:
- alles vir sy/haar kind se opvoeding feil het en die Christelike waardes hoog ag
- gebalanseerd betrokke is by die skool en positief belangstel en ondersteun
- 'n lojale en standvastige vennoot sal wees
- volle beheer en kontrole oor hulle kinders sal hê.
Ons strewe na 'n Skool:
- waarin elkeen wat ons missie onderskryf, tuis sal voel
- waarop elkeen wat daaraan verbonde is, met reg trots kan wees
- waar ons 'n goeie lewenstandaard sal stel
- met sy eie besondere karakter, etos en tradisies
ETOS
As Ouers, Personeel en Leerders aanvaar ons die volgende:
- Laerskool A.G.Visser is gefundeer in Christelike beginsels en dit word van elkeen verwag om dit uit te leef. Die Oppergesag en Almag van God Drie-Enig word erken.
- Die gesin is die primêre opvoedingsbasis van elke leerder. Daar word van die leerders verwag om volwasse persone se gesag te erken en dit ook te aanvaar. Volwassenes sal poog en daarna streef om elke leerder met liefde, geduld en begrip te lei en te ondersteun.
- Die belange van die skool word bo eie belange en behoeftes gestel. Daarom sal gepoog word om te alle tye deur ons gedrag, optrede, taal en denke die goeie naam van die skool uit te dra, te bevorder en gestand te doen.
- Die beginsels van vreedsame naasbestaan word erken. Leerders en opvoeders is in 'n vennootskap betrokke en daarom moet daar deurentyd gebou word aan wedersydse positiewe gesindhede.
- Hoë standaarde is ononderhandelbaar en moet behou en steeds verder verhoog word om sodoende te voldoen aan die behoeftes van die tyd. 'n Positiewe en gesonde leerkultuur is dus van deurslaggewende belang.
- Die beginsel van gebalanseerdheid word onderskryf en daarom streef elkeen daarna om dit uit te leef deur op 'n verskeidenheid van terreine, binne bepaalde vermoëns en beperkings, betrokke te raak en 'n bydrae te lewer.
EREKODE VIR LEERDERS
As Leerder respekteer ek:
- die voorreg om onderwys te mag ontvang.
- die reëls, beginsels en doelstellings van my skool.
- die eiendom en toerusting wat tot my beskikking gestel word.
- die opvoeders wat oor my aangestel is, sodat hoë gehalte onderwys aan my voorsien kan word.
As Leerder strewe ek daarna:
- om die Christelike karakter van my skool uit te leef en uit te bou en gee ek die ereplek aan God en Sy Woord in my lewe.
- om ander te beinvloed om ook voorbeeldig en trots te lewe.
- om betrokke te wees en te presteer na die beste van my vermoë op die terreine van akademie, kultuur en sport.
- om eerlik, opreg, getrou en vriendelik te wees.
- om myself en my omgewing netjies en rein te hou.
- om hulpvaardig te wees en my medemens te dien.
As Leerder sal ek:
- die byeenkomste van my skool bywoon en ondersteun.
- die skool help uitbou om dit die beste skool te maak.
- die regte van opvoeders te respekteer.
As Leerder sal ek nie.
- die beeld of karakter van my skool op enige gebied benadeel nie.
- my Godgegewe talent(e) verwaarloos nie.
EREKODE VIR ONDERWYSERS
Ek glo dat die Almagtige God oor my ganse lewe beskik. Ek glo dat ek myself moet rig en laat lei deur die norme en waardes van die skool asook die gemeenskap waarbinne ek bly en/of werksaam is.
Ek beloof verder die volgende:
- Dat ek nie selfsugtig sal waak oor my kundigheid nie, maar dit sal aanwend tot voordeel vam Laerskool A.G.Visser, sodat ons skool sal groei en sy plek in die samelewing kan volstaan.
- Dat ek lojaal sal wees teenoor my skool, sodat die beeld van die skool na buite sal getuig van werkstrots en professionaliteit.
- Dat ek my verbind tot selfdissipline en eensgesindheid.
- Dat ek my aan billike gesag sal onderwerp.
- Om 'n gelukkige werksklimaat en skoolatmosfeer te skep deur middel van integriteit, vertroue, 'n sin vir humor, verdraagsaamheid en entoesiasme.
- Om regverdig teenoor personeel en leerders op te tree.
- Dat ek na medepersoneel en leerders sal uitreik in liefde en empatie.
Mag God my so lei dat die Vrug van die Gees my ingang en uitgang sal wees.
|